28/02/2026
https://www.facebook.com/share/p/1C7PURy6oP/?mibextid=wwXIfr
Ek kyk na die opskrif: “Gr. 1: Net 1 uit 3 kan lees.”
En my eerste reaksie is nie woede nie. Dis bekommernis. Wat presies verwag ons van ses- en sewejariges? Ons het ’n akademiese gejaagde nasie geword. ’n Nasie wat meet, toets, vergelyk, druk en versnel. En êrens in daardie jaag, verloor ons iets kosbaars — kindwees.
‘n Kind is in Graad 2. Sy dag lyk so: Skoolwerk, naskool, huiswerk, naskool aktiwiteite (en baie keer kry sport aktiwiteite meer druk as akademie), in die aand weer hersiening,
Waar is die breek? Waar is die speel? Waar is die verbeelding, die bou van forte, die klim in bome, die vuil hande en die kreatiewe chaos?
Ons kinders leef onder konstante prestasiedruk. Hulle moet lees, vinnig lees, begryp, presteer. Hulle moet sigwoorde ken, spoed ontwikkel, assesserings slaag. En as hulle sukkel, voel dit asof hulle “agter raak”. Maar miskien is die vraag nie of die kind agter is nie. Miskien is die stelsel heeltemal verkeerd.
Het ons nie iets verloor nie? Ek wonder ernstig of ons nie moet teruggaan na sekere “ou dae” beginsels nie: Leer kinders weer ordentlik spel, bou sterk fonetiese grondslag, minder spoed, meer begrip en minder volume en meer bemeestering.
Spoedlees en sigwoorde het hul plek, maar wanneer dit die fondament vervang, bou ons huise sonder mure. ’n Kind wat stadig en deeglik leer lees, maar met begrip en selfvertroue, is baie sterker as ’n kind wat vinnig deur woorde hardloop sonder sekerheid.
Ontwikkeling kan nie geforseer word nie
Kinders ontwikkel nie almal op dieselfde tempo nie. Veral seuns (en baie navorsing wys dit) ontwikkel taalvaardighede soms effens later as meisies. Dit beteken nie hulle is minder slim nie. Dit beteken hul brein ontwikkel anders.
Wanneer ons te vroeg te veel druk, gebeur drie dinge: hulle begin hulself as “nie goed genoeg” sien, skool word ’n bron van angs en motivering word vervang met vrees vir mislukking. En dit breek my hart.
Kinders het speel nodig – dis nie ’n luukse nie. Speel is nie tydmors nie. Speel bou probleemoplossing, sosiale vaardighede, kreatiwiteit, emosionele regulering en selfvertroue. Wanneer ’n kind net presteer en nooit asemhaal nie, steel ons iets van hul ontwikkeling. Ons steel hul natuurlike groei.
Ons as ouers voel ook die druk. Ons wil nie hê ons kinders moet agter raak nie.
Ons wil hê hulle moet geleenthede hê. Maar wanneer het ons begin glo dat meer werk altyd beter uitkomste beteken? Meer huiswerk beteken nie noodwendig meer begrip nie.
Meer druk beteken nie noodwendig meer dissipline nie. En vroeë akademiese intensiteit beteken nie noodwendig beter volwassenes nie.