15/08/2026
Die manjifieke ontwaking van Mel deur Jacolet van den Berg
Ek het die eerste keer van die skrywer kennis geneem toe Melanie vir my Hoë hakke met hoogwater in die hand gestop het. Sy het gesê ek sal daarvan hou en sy was reg. Ek het dadelik van die skrywer se styl gehou. Die styl het my nogal aan Melissa Scharneck se styl herinner. Lig en vrolik, ‘n gestroopte manier om dinge te beskryf, sonder om in vervelig te verval.
Die manjifieke ontwaking van Mel volg op die gewilde Die geheime lewe van Gita. Mel is Gita se neus-in-die-lug stiefsuster met wie ons reeds in Gita se storie kennisgemaak het. Mel is perfek. Van haar gepedikuurde kleintoontjienael tot haar loopbaan wat as klein dogtertjie reeds beplan en uitgewerk is. Sy ry met ‘n perfekte Duitse motor, dra perfekte klere, gedra haar perfek.
Sy reël vir Gita, haar loskop, vrygeestige, onkonvensionele stiefsuster die perfeke troue. Tydens die seremonie staan sy as strooimeisie langs Isabella. Isabella is Gita se halfsuster (lees die storie in Gita se boek). Gedurende die bruilof vind sy uit dat Gita en Darius op ‘n sabbatsreis gaan. Isabella en haar nuwe swaer, Brian, het die voor haar geweet. Dit laat haar ewewig ‘n klein bietjie wankel. Later maak sy ‘n fout by die werk. ‘n Krakie begin in die perfekte Mel-mondering wys.
Isabella wat so maklik oral inpas, boonop in háár ma se kombuis kom kook, ogies maak vir Brian wil Kaap toe trek. Nee, sy wil nie, sy gaan. Isabella krap aan Mel. Sy het haar suster kom opeis, hulle lewens naatloos binne geseil en is hier om te bly. Brain met sy goor tatoe irriteer haar. Hy stel haar voor aan ander twyfelagtige karakters.
Onverwags en onbepland begin haar skitterende ster uit sy melkweg beweeg. Gaan sy dit toelaat of gaan sy in haar perfekte wentelbaan bly?
Koop sommer vandag nog vir Gita en Mel by boekgenot. Dis chicklit op sy beste!
Ek lees vanag vir Mel. Wat lees jy?