28/04/2026
"Ek gaan 'n nuwe lewe in en dis myne." Leana Lategan vertel meer oor Petronella van Heerden.
Mev Ena Van der Walt, 'n geliefde kollega uit die vroeër jare by NALN, het my van Petronella van Heerden vertel. "Kerssnuitsels", die outobiografiese vertellings van hierdie kleurryke karakter, was 'n eerste kennismaking met Anna Petronella van Heerden, wat op 26 April 1887 in Bethlehem gebore is. Sy vertel hierin van haar tyd as klein kind, die lewe van die gesin tydens die oorlog, en die jare daarna. Haar vader was 'n landdros in die Vrystaatse Republiek, sodat die gesin op verskeie Vrystaatse dorpe gewoon het. Sy gaan ook skool in die Huguenot Seminary op Wellington, en ná matriek studeer sy verder aan die Victoria College op Stellenbosch. Heeltemal in stryd met die gees van haar tyd, toe vroue 'n minder sigbare rol moes speel, en ook téén die wens van haar ouers, vertrek sy na Nederland, waar sy met 'n beurs aan die Universiteit van Amsterdam Medies studeer (1908-1915).
Haar internskapjaar doen sy in die Volkshuishospitaal in Bloemfontein, 1916, en open 'n eie praktyk die volgende jaar in Harrismith. Vanaf 1921 spesialiseer sy in ginekologie in Londen, en vertrek dan na Amsterdam om haar PhD in 1923 te voltooi, die eerste mediese tesis wat in Afrikaans geskryf word. Sy praktiseer twintig jaar as ginekoloog in Kaapstad, totdat sy in 1943 aftree en op haar plaas Grootfontein (distrik Harrismith) begin boer. Hier kon 'n mens haar in kakiebroek en -h**p, werkerskoene en hoed by haar diere aantref, en het sy met ewe veel gesag as die manlike boere by vendusies en ander sosiale verpligtinge opgetree. Dit is juis hier vanuit "Grootfontein" dat "Kerssnuitsels" in1962 beslag gekry het. Dit is opgevolg deur "Die sestiende koppie". Sy het ook genealogiese navorsing gedoen, wat gepubliseer is as die "Geslagsregister van die familie Van Heerden 1701-1968". Ander skryfwerk wat uitgegee is, is "Waarom ek 'n sosialis is"(1938), en "Dames XV11" (1969).
Petronella van Heerden se biografiese verhaal lees interessant en boeiend, maar dis veral haar outobiografiese vertellings wat 'n mens bekoor en jou summier intrek in 'n verbygegane era van kindwees, plattelandse lewe en vreugdes, die heilsaamheid van dinge wat was soos wat hulle was. Veral haar vertellings van skooldae, haar leesstof en vriendskappe, is bekoorlike kameë van 'n tyd waarvan ons slegs nog in boeke kan lees.
Petronella van Heerden was enig in haar soort, (onder meer ook 'n amateur argeoloog wat onder die leiding van die befaamde Dorothy Garrod opgrawings in Wadi el Maghara, in Palestina gedoen het), maar sy was bo alles 'n Afrikaanse skrywer wat 'n greep van haar unieke leefwyse in 'n tydgees wat reeds in die vergetelheid lê, vir ons nagelaat het. Sy is in 1975 in Kaapstad oorlede, hierdie dogter van die Vrystaat.
(Opskrif: "Ek gaan 'n nuwe lewe in en dis myne." Slotsin uit "Kerssnuitsels" deur Petronella van Heerden.)
Kontak NALN se Museumwinkel vir eerstehandse eksemplare van "Kerssnuitsels" deur Petronella van Heerden: [email protected]
Grafika: My City Bloemfontein