13/06/2026
Ontmoet ons skrywer in die kollig, Marinda Engelbrecht
Tuiskok en TV-sjef Marinda Engelbrecht se hande ken van raakvat, vlamvat, kortpaaie vat. Sy kook uit die hart, sommer met wat ook al in haar koskas is. Sy is ’n voorslag in die kombuis en hou nie van vaal kos nie, selfs afval moet met ’n bietjie kleur voorgesit word. Sy hou van nostalgiese kos wat jy in ’n japtrap kan berei, sonder fieterjasies of vreemde bestanddele. Haar resepte is maklik, uitvoerbaar en lipafleklekker. Benewens haar groot liefde vir kook is sy by baie kinders en ouers bekend as “die tannie wat Vlooi op die verhoog gesit het”. Vlooi is die kinderteaterproduksie wat dekades lank groot vermaak aan jonk en oud verskaf het?. TV-gehore het haar in 2013 leer ken as Kokkedoor-finalis en later as die aanbieder van die gewilde kosprogramme Maklik met Marinda en Laat die potte prut op VIA, DStv-kanaal 147. Intussen het sy al meer as vier kookboeke die lig laat sien.
Soos sy altyd sê: “Eenvoudige en eerlike kos, dis my hartstaal!”