10/06/2026
Soms kan klein oomblikke jou voete onder jou uitslaan.
Dinsdag (ja, hoe anders?! 😄) in pousetyd teken ek boeke by 'n skool. Die kinders het reeds boeke by die uitstalling gekoop, en nou staan hulle tou vir handtekeninge.
'n Oulike, kordate klein blondekop kom staan voor my. Hy lyk soos 'n rugbyspelertjie, seker so graad vyf rond. Hy het "Vreemde dinge kan op 'n Dinsdag gebeur" gekoop.
"Het jy dit al begin lees?" maak ek praatjies.
Hy kyk my baie ernstig aan. "Oom," sê hy plegtig, "ek is nie regtig 'n leespersoon nie. Maar Oom, ek d**k dié boek is besig om van my 'n leespersoon te maak."
Siedaar.
Net so.
Een van die beste komplimente van my lewe.