Margaret se Boekeblad

Margaret se Boekeblad Ek neem mense graag op my storie reise en voer hulle weg na ander lande en belewenisse.

Een Beker TeeVir RoanDit is die soort koue wat in jou beendere kruip.Ek staan by die kombuisvenster en kyk hoe die wind ...
19/06/2026

Een Beker Tee

Vir Roan

Dit is die soort koue wat in jou beendere kruip.

Ek staan by die kombuisvenster en kyk hoe die wind die laaste blare oor die kaal werf jaag. Daar is nie meer blomme nie. Net gras wat grys lê, soos iets wat moeg geword het vir die lewe. Die lug hang laag en vuilwit, en dis nog nie eens vyfuur nie, maar dit lyk al klaar of dit aand word.

Binne is dit ook donker. Die ligte werk nie meer nie. Die mense van die munisipaliteit het die krag gesny. Ek het gesien hoe Ma met die papiere in haar hande staan, hoe sy van die een kamer na die ander loop asof die antwoord êrens tussen die mure weggekruip het. Sy het nie geweet waarheen om te gaan nie. Al het sy niks gesê nie, kon ek dit sien.

In die venster se glas sien ek myself. Deurmekaar, wit hare. ’n Gesig wat te ernstig is vir tien jaar oud.

Agter my slaap my boetie. Klein en warm onder die kombers, gelukkig genoeg om nie te weet hoe min daar in die huis oor nie.

Ek weet wel.

Ek weet daar is nie kos nie. Ek weet Ma huil - die laaste paar nagte het ek dit deur die muur gehoor, sag, asof sy bang is ek hoor. Bedags dra sy ’n glimlag soos ’n mens ’n baadjie dra teen die koue. Maar haar oë bly hartseer, al lag haar mond.

En ek kan dit nie meer vat nie.

Ma hou van tee. Dit beur haar altyd op.

Dis al waaraan ek kan d**k. Sy drink dit snags as sy sukkel om te slaap, met haar hande om die beker gevou asof dit haar van binne af warm hou. Daar is nog teesakkies in die kas - ek het gaan kyk. Maar ’n teesakkie help niks as daar nie kookwater is nie, en daar is nie krag om die ketel aan te sit nie.

Toe d**k ek aan Pa.

Pa maak altyd vuur as ons braai. Hy stapel die hout netjies, nie sommer enige plek nie, soos ’n klein huisie met spasie vir die lug om in te kom. Ek het hom dit baie kere sien doen. Hoe moeilik kan dit wees?

Ek trek my baadjie se rits op tot teen my ken en gaan uit. Die koue byt deur alles. Ek tel die droë stukke hout langs die buitemuur op en pak hulle soos Pa – een, twee, oor mekaar, met ’n gaatjie in die middel. My hande is styf van die koue, maar ek hou aan.

Toe kom die volgende probleem.

Waarin gaan ek die water kook? Ek kan nie Ma se potte vat nie. As ek een swart brand, gaan sy weer hartseer wees, en dis nét die teenoorgestelde van wat ek wil doen. Ek staan ’n rukkie net so, en die plan begin te groot voel vir my.

Toe sien ek dit. Die leë koffieblik langs die asdrom.

Ek skeur die papier af en spoel dit uit by die buitekraan. Die water is so koud dit brand amper. Ek maak dit vol skoon water en dra dit versigtig na my vuurtjie, balanseer dit bo-op die hout, mooi reg in die middel, soos ’n kroontjie.

Toe steek ek die vuur aan.

Dit sukkel ’n paar keer, maar toe vat dit, en die vlammetjies klim teen die blik op. Ek sit op my hurke en kyk, en my hart klop vinnig, want dit wérk. Dit werk regtig.

Net toe hoor ek ’n kar by die hek indraai.

Ma klim uit. Ek hoor die deur klap, hoor hoe sy haar handsak binne op die tafel neersit. Toe kom sy om die hoek, soek my in die agterplaas, en sien my by die vuur.

Sy glimlag. Dieselfde dapper glimlag. Tog is haar oë moeg, ek kan dit sien, selfs in die donker wat nou begin.

“Ma, kyk,” sê ek. “Kyk wat het ek vir Ma gemaak.”

Ma kyk na die vuurtjie. Na die koffieblik. Na my.

Toe klap sy haar hande saam, soos ’n klein dogtertjie. “Roan,” sê sy, en haar stem breek ’n bietjie. “Het jy dít alles self gedoen?”

Ek knik. Ek is so trots ek kan amper nie stilstaan nie.

Sy kom staan langs my, naby die vuur, en ons kyk saam. Onder in die blik begin die water roer. Klein borreltjies vorm teen die bodem, een vir een, en klim op. Dis byna tyd. Byna tyd vir Ma se beker tee – die eerste lekker ding in dae.

Toe gebeur dit.

Ek het nie geweet hout doen dit nie. Soos dit brand, word dit minder, val dit in mekaar. Net toe ek my hand uitsteek, sak die hout weg onder die blik, en die blik kantel. Al die water loop uit in die sand.

Net so. Weg.

Ek staan en kyk na die nat kol wat al kleiner word in die grond, en ek voel hoe my keel toetrek. Ek het só hard probeer. Ek wou net één ding reg doen. Net een.

“Mamma, ek is jammer,” sê ek, en my stem is dun. “Ek is so jammer, die water is…”

Maar Ma is reeds op haar knieë langs my.

Sy vat my gesig in haar twee hande. Haar hande is koud, maar sag. Sy draai my kop dat ek na haar moet kyk, en vir die eerste keer in dae is daar nie hartseer in haar oë nie. Iets anders. Iets wat warmer is as die vuur.

“Luister na my,” sê sy. “Luister mooi. Ek het nie tee nodig nie.”

“Maar Ma drink mos…”
“Roan.” Sy vee ’n haar uit my gesig. “Jy het ’n vuur gemaak in die koue, vir my. Jy het ’n plan gemaak van niks af. Dit het my warmer gemaak as enige beker tee in die hele wêreld.”

Ek sê niks. Ek weet nie wat om te sê nie.

“Ons het mekaar,” sê sy. “Jy kyk na my en ek kyk na jou. Solank ons dit het, kom ons reg. Hoor jy my?”

Ek knik teen haar hande.

Sy trek my nader, en ons sit saam op ons hurke voor die laaste vlammetjies. My boetie is nou wakker en speel binne, die nag sak koud om ons toe. Maar ek is nie koud nie.

Ek het my ma. Sy het my.

En dis genoeg.

19/06/2026

Yes

01/06/2026

Hello June ☀️

"Twee is beter as een, want hulle het 'n goeie beloning vir hulle moeite." – Prediker 4:9
01/06/2026

"Twee is beter as een, want hulle het 'n goeie beloning vir hulle moeite." – Prediker 4:9

18/05/2026
11/05/2026

Bohemia will be open daily from Monday to Friday from 7H30 till 16H00 and Saturdats from 08H00 till 13H00

11/05/2026

A favourite ❤️❤️

Address

Otjiwarongo

Website

Alerts

Be the first to know and let us send you an email when Margaret se Boekeblad posts news and promotions. Your email address will not be used for any other purpose, and you can unsubscribe at any time.

Shortcuts

Share

Category