15/01/2023
'n Uittreksel uit my boek oor Teddy, die beroemde leeu van Fort Doppies :
Dewald de Beer, bevelvoerder van Fort Doppies in sy eie woorde die Teddy en Lisa storie:
“Ek het vir Teddy geskiet, dit was soos om my eie kind te skiet” vertel Dewald met trane in sy oë.
“Ons het baie keer probeer om Teddy terug te sit in die natuur, maar hy was ‘n soldaat, nie ‘n leeu nie. Baie nagte het Grobbies en van die ander soldate met Teddy ver in die bos gaan slaap en probeer om hom te laat kontak maak met die wilde leeus. Hulle het ‘n leeu tape gespeel en baie gou die wilde leeus hoor naderkom. Dan brul Teddy, dan brul die wilde leeus en soos hulle nader kom, raak Teddy al hoe stiller. Later sit al die soldate bo-op die Unimog en as hulle weer sien, sit Teddy ook daar.
Toe probeer ons hom leer jag. Naby die kamp was ‘n boom met baie stokstertmeerkatte. Ek gaan staan aan die een kant van die boom sodat hulle almal aan die ander kant kan afspring met die hoop dat Teddy een gaan probeer vang, maar hy hardloop net so vinnig as die troepe weg. Later het Teddy alleen op ‘n eiland gebly. Ek het ‘n jong boerbok gekoop om vir hom te neem. Toe ek stop, kom hy nader om te sien of ek nie vir hom ‘n varkboud gebring het nie. Nuuskierig het hy die jong boerbok bekyk. Die volgende oomblik stamp die bok hom met sy kop en Teddy kies die hasepad.
Soms het hy vir twee of drie weke saam met wilde leeus geloop en saam met hulle geëet, dan op ‘n dag stap hy weer by Fort Doppies in en ons moet skote skiet om die wilde leeus te verwilder. Terug in die kamp het hy saam met die troepe springhase gejag, rugby gespeel en na die tyd saam gestort en dan blow-dry hulle sy hare.
Daar is van Pretoria se kant af opdrag gegee om Teddy te skiet. Toe die skieter by Fort Doppies opdaag, is ek en Teddy lankal weg. Maar die druk het al hoe groter en groter geword. Een oggend vroeg het ek die R1 gevat en saam met Teddy die veld ingestap. Net een skoot en hy was dadelik dood. Ek het hom net daar gelaat en teruggestap na Fort Doppies...”
Op Safari is te koop beskikbaar by die volgende winkels :
Wildman Centurion
Zimbi https://zimbi.co.za/product/op-safari-mickey-kuyper/
Protea Boeke Hatfield
Grafitti Boeke