02/06/2026
Die Vis Wat Alles Verander Het.
Sommige visse word persoonlike bestes. Ander word vir altyd deel van jou storie.
Hierdie Grootbek Geelvis bly vandag nog die grootste vis wat ek nog ooit gevang het en die hoogtepunt van my hengelloopbaan op die Oranjerivier.
Die vis het 'n Rapala Shad Rap Shallow Runner gevat wat natuurlik deur 'n diep stroomversnelling geswaai is. Die water was ongeveer 16 meter diep met groot struktuur/klippe op die bodem. Terwyl min ander visse daardie dag wou byt, het ek aangehou glo in die water en die aanbieding. Gooi na gooi het ek dieselfde watersone gewerk totdat alles uiteindelik bymekaar gekom het.
Toe die Grootbek die kunsaas vat, was dit brutaal.
Die vis het onmiddellik sy gewig, krag en die diep water tot sy voordeel gebruik. Met groot rotse en strukture naby moes ek maksimum druk toepas om te keer dat hy my afbreek. Op tye moes ek selfs my hand gebruik om die katrol se drag te help. Wat gevolg het, was een van die mees intense gevegte wat ek nog ooit beleef het.
Toe hy uiteindelik die oppervlak bereik, het ek geweet ek kyk na iets besonders.
Ek het besluit om hom nie te weeg nie. My landingsnet was eenvoudig te klein en ek was nie bereid om so 'n manjifieke vis te benadeel of moontlik te beseer net om 'n syfer te kry nie. Ek skat sy gewig tussen 14,5 en 16 kg.
Die foto's is vinnig geneem en die vis is onmiddellik teruggesit sodat hy kon herstel en voortgaan om die Oranjerivier se water te patrolleer.
Tot vandag toe wonder ek steeds hoe ek hierdie persoonlike beste sal verbeter. Maar miskien is dit presies wat my telkens terugtrek na die rivier – die geloof en wete dat daar êrens onder die strome nog 'n paar monster Grootbek Geelvis rondswem wat myself of een van my gashengelaars se kunsaas op dieselfde manier kan gryp.
Het jy al ooit daardie een vis gevang wat jy waarskynlik nooit sal vergeet nie?
Ek sien uit daarna om hierdie komende seisoen soortgelyke ervarings saam met hengelaars op ons pragtige Oranjerivier by Slypsteen Safari's te beleef. Wie weet, dalk breek jy hierdie rekord met my hulp.
My passie vir geelvishengel is sterker as ooit en my doel is eenvoudig – om elke hengelaar se verwagtinge te oortref.
Kondisies maak visvang nie altyd maklik nie, en dit is juis wat ons sport so interessant maak. Moeilike en maklike kondisies bied elke keer nuwe lesse oor geelvisgedrag. Die antwoord lê nie altyd in 'n nuwe of spesiale kunsaas nie, maar meestal hoe daardie kunsaas aangebied word.
Kunsaasaanbieding is waarskynlik die belangrikste vaardigheid wat enige kunsaashengelaar kan ontwikkel.
As jy reeds verstaan waarvan ek praat, het jy waarskynlik jare se ondervinding en spesiale vangste om dit te bewys. Indien hierdie konsep nog nuut klink, weet jy presies waarop om hierdie seisoen te fokus.
Onthou hierdie eenvoudige beginsel:
**Kunsaas boots aasvisse na.**
**Beseerde aasvisse is die maklikste teikens vir roofvis.**
Jou doel is dus nie om 'n perfekte kunsaas te hê nie, maar om jou kunsaas soos 'n kwesbare, beseerde aasvis aan te bied.
Wil jy hierdie leerproses versnel?
Boek 'n trip saam met Bo Karoo Fishing by Slypsteen Safari's. Ek, Jacques Schoeman, sal jou wys hoe om kunsaasaanbieding te verstaan en toe te pas onder werklike rivierkondisies.
Die maklikste en goedkoopste manier om jare se ervaring op te doen, is om dit direk by 'n ervare gids te leer.
📞 Besprekings:
Jacques Schoeman
Bo Karoo Fishing
076 106 9309